Thursday, 29 January 2009

Boeke


Hardekool-aande deur Jan Nel; Protea Boekhuis; R110

’n Hardekoolvuur het die neiging om ’n man ’n waterigheid in die oog te laat kry. En dan is dit nie altyd die rook se skuld nie . . .

Die meeste verhale in hierdie bundel het ’n weemoedige trant, soos ’n mens kan verwag wanneer daar saans op ’n plaas in die Laeveld om
’n kampvuur gesels word en stories vertel word oor die liefde in sy magdom verskillende gestaltes. En die voggies uit die bottel met die patrys/korhoender daarop kan ’n man mos dikwels selfs nog weemoediger stem. Vir balans is daar darem ook verhale in ’n ligter trant. Veral dié oor die honde waarmee die manne leeus wou pak, laat ’n mens glimlag.

’n Bedrewe storieverteller is hier aan die woord. Dit is die soort stories wat ’n mens laat verlang na ’n kampvuur en jou laat terugdink aan jou eie kuiertjies onder die sterre.
JAN BOSMAN

My Pyn, My Glorie deur Hestrie Cloete-Els; Joho!; R149

In hierdie geselsboek vertel die voormalige Olimpiese hoogspring-
atleet van die vreugde en hartseer van haar lewe. Lesers kry ’n intieme blik op haar kinderjare, haar lewe in die kollig en haar stormagtige verhouding met haar ouers.

Haar gevoel vir haar familie is dood, skryf sy, en sy het al so gevoel nog voor sy medaljes in die Olimpiese Spele verower het. Daar verskyn dan ook geen enkele foto van haar familie in die boek nie, maar wel pragfoto’s van Hestrie se gloriedae as atleet, haar troue en gesin.

Sy vertel vir die eerste keer van haar miskraam in haar eerste huwelik en beskryf hoe gelukkig sy, haar tweede man, die sanger Jurie Els, en hul twee kinders in Nieu-Seeland woon. Sy maak ook haar hart oop oor die aantygings van molestering teen Jurie.

As jy in die wel en wee van hierdie kampioenatleet belangstel, sal haar outobiografie jou enduit boei.
LARA ATSON