
Dalk het jy versekering waarvan jy nie eens bewus is nie.
Jou skootrekenaar word dalk oor ’n naweek by ’n luukse oord in Suid-Afrika gesteel, of jy word siek terwyl jy oorsee is. As jy jou vliegkaartjie en hotel met jou kredietkaart betaal het, het jy heel moontlik reisversekering wat persoonlike ongelukke of mediese koste dek.
Maak net vooraf seker wat alles gedek word. Met ’n Nedbank Classic-kredietkaart het jy byvoorbeeld vir besering – nie siekte nie – in Suid-Afrika tot dertig dae dekking van tot R25 000, en R150 000 in die buiteland. Met ’n Nedbank Gold-kredietkaart is dit R70 000 en R1 miljoen, en met ’n American Express Platinum-kredietkaart R70 000 en R10 miljoen.
Nedbank Classic- en Gold-kredietkaarte en die American Express Platinum-kredietkaart bied ook siektedekking van onderskeidelik R150 000, R1 miljoen en R10 miljoen vir siekte in die buiteland, maar niks plaaslik nie. Sulke versekering mag nie plaaslik met mediese fondse meeding nie, sê Thamsanqa Ndebele van AIG Africa.
As jou familie jou moet kom besoek, sal dié uitgawe ook gedek word, asook die koste van mediese vervoer in die buiteland en reiskoste terug huis toe.
Al die kredietkaarte bied dekking vir persoonlike ongelukke hier en in die buiteland.
Die koste van siek word oorsee moet nie onderskat word nie. Die grootste eis wat AIG SA al moes uitbetaal – hulle onderskryf baie kredietkaarte se versekeringsplanne – was vir ’n versekerde wat longontsteking gekry en drie maande in ’n hospitaal in Las Vegas moes deurbring. Die mediese koste was meer as R7 miljoen!
Lees meer oor versekering in Huisgenoot van 18 Junie.