
Sussie (15) vra oor kondome
My suster is 15 en bly by my en my man. Sy het my nou gevra of sy ’n kondoom of voorbehoedpille moet gebruik as sy by ’n ou wil slaap. Ek voel sy is te jonk vir sulke dinge, maar aan die ander kant wil ek reg optree. Jy weet mos hoe tieners is – gee hulle raad, dan doen hulle die teenoorgestelde. My ouers is ver en sy het min kontak met hulle. Ek wil vir haar verduidelik waarom sy dit nie moet doen nie, en wat die gevolge daarvan kan wees as sy dit wel doen. – Bekommerde grootsus
Dr. Adri antwoord:
Ja, jy is reg, alles in ’n mens kom in opstand as jy besef ’n kind staan op die punt om seksueel aktief te raak. Jy as volwassene besef die volle implikasies daarvan, maar jou sussie kennelik nie. Ek sal nie verbaas wees as sy reeds seksueel geëksperimenteer het nie.
Onlangse navorsing wys ’n skrikwekkende hoë persentasie kinders is al so vroeg as op tien jaar oud seksueel aktief. Hulle glo boonop hulle sal nie swanger raak as hulle net een keer seks gehad het nie én dat hulle nie ’n seksueel oordraagbare siekte kan kry as hulle agterna bad nie. Dis genoeg om jou bloed te laat stol.
Jul ouers is nie beskikbaar nie; daarom is dit jou verantwoordelikheid om jou sussie so gou as moontlik oor die baie belangrike saak in te lig. Ja, hulle kry lesse oor lewensvaardighede op skool, maar dit kan nooit ouerlike – of susterlike – opvoeding vervang nie.
Dit is goed dat sy met jou gepraat het, want dit wys sy vertrou jou. Maak van daardie vertroue gebruik en gesels openlik met haar, veral sonder om te veroordeel. Gee haar ook die geleentheid om jou uit te vra oor alles wat sy wil weet. Dit help nie om skaam te wees nie, die beste wapen teen ongewenste swangerskappe en seksuele siektes is kennis. Sy’s oud genoeg, en gereed, om alles te weet.
Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 2 Julie.