
THE HORSE BOY DEUR RUPERT ISAACSON; Penguin; R210
Dit is die aangrypende ware verhaal van ’n ouerpaar wie se hartseer plek maak vir hoop nadat hulle ’n verstommende ontdekking oor hul outisitiese seun gemaak het.
Rupert Isaacson en sy vrou, Kristin, is verpletter toe kwaai outisme by hul seun Rowan gediagnoseer word. Maar toe Rupert agterkom dit lyk asof Rowan uit sy outisitiese dop kruip as daar perde in die omgewing is, neem die gesin ’n buitengewone besluit: om hul vyfjarige seun na Mongolië te neem. Hulle beplan om te perd oor berge en deur riviere te ry om ’n magtige sjamaan in die noordelike gebied van die Rendier-stam te ontmoet in die hoop dat hy die seun sal genees.
Dis die verhaal van ’n seun wat sy reis as ’n doekdraende probleemkind met woede-uitbarstings begin en van sy ouers wat leer om weer te hoop.
Dis ’n verhaal wat jou sal laat lag en huil.
TANGO: LIGVOETS DEUR DIE LEWE DEUR JEANNE ELS; Lux Verbi.BM; R89,95
Dis lekker om saam met hierdie “christen-joernalis” ligvoets deur die soms skreeusnaakse sketse in hierdie bundel te tango. Dit is ’n gepaste voortsetting van haar ontboesemende boek Ligdans: Depressielyers se Verhale van Hoop. Want hier vier sy die lewe op ligte trant en vryf die alledaagse blink: van die skaapkop “met die moewiese fringe” vir haar man se bord en die “poetsfeetjies” wat agter ons in die huis moet opruim tot die bekkigheid van Kaapstad se straatbewoners. Die skrywer spot lekker met haarself: haar Franse lesse en haar stryd teen haar “bolwang-bakkies”.
Mans kan ook maar lees, maar veral vroue sal hulle in dié skryfstukke verkneukel waarvan die meeste al in tydskrifte en dagblaaie verskyn het. Klaar gelees sal lesers hierdie opdrag uit die titelverhaal met hulle saamdra: “Promise to keep the tango in your heart and never say adios to life.”