
BESTE STELSEL
Die wit regeringsamptenaar doen ’n peiling onder Indiane in ’n reservaat in Amerika en vra opperhoof Twee Arende: ‘‘Jy hou die wit man en sy doen en late al 90 jaar dop. Jy het sy oorloë en sy tegnologiese vordering aanskou. Jy het sy vooruitgang en ook die skade wat hy aangerig het, gesien.’’
Die opperhoof knik sy kop.
‘‘Waar dink jy het die wit man sy groot fout begaan?’’
Die opperhoof staar so ’n minuut lank na die amptenaar en antwoord: ‘‘Toe wit man hier kom, het Indiane regeer. Geen belasting, geen skuld, baie buffels, baie bewers, skoon water. Vrou het al die werk gedoen. Mans jag en vang hele dag vis. Snags vrou gelukkig gehou.’’
Toe leuen hy terug en glimlag: “Net wit man dom genoeg om te dink hy kan stelsel soos daardie verbeter.’’
DRA IETS
Die jong bruid se ma is maar baie konserwatief. ‘‘Onthou nou, my kind,’’ gee sy raad, ‘‘moet nooit dat hy jou nakend sien nie. Jy moet altyd iets dra.’’
‘‘Ja, ma,’’ antwoord die dogter gedwee.
Nadat die dogter al twee weke getroud is en net voor hulle die aand in die bed kruip, vra haar man: ‘‘Skat, was daar al ooit ’n geval van waansin in jou familie?’’
“Nie sover ek weet nie,’’ antwoord sy. ‘‘Hoekom vra jy?’’
‘‘Wel, ons is nou al twee weke getroud en elke nag dra jy daardie verspotte hoed bed toe.’’
LANG GESIGTE
Die meisie raak verlief op ’n matroos en laat sy gesig op haar linkerbors tatoeëer. Maar die romanse kwyn en hulle maak uit.
’n Ruk later raak sy verlief op ’n soldaat en laat sy gesig op haar regterbors tatoeëer. Maar ook dié romanse deurstaan nie die toets van die tyd nie.
’n Paar maande later ontmoet sy ’n lugmagvlieënier, hulle raak smoorverlief en trou.
Op haar huweliksnag maak sy gereed om bed toe te gaan, maar haar man begin lag toe hy haar sonder klere sien.
‘‘Wat is so snaaks?’’ wil sy vies weet.
‘‘Wel,’’ sê hy laggend, ‘‘ek dink maar net watter lang gesigte daardie twee manne oor 10 jaar gaan hê!’’
KOFFIEMASJIEN
Vir haar verjaardag kry ’n blondine ’n baie duur en ingewikkelde koffiemasjien van een van haar talle bewonderaars.
Sy is nie goed daarmee om die instruksies te lees nie, en vat die masjien na die winkel sodat ’n verkoopsman stap vir stap kan verduidelik presies hoe die masjien werk. Hy verduidelik geduldig hoe jy dit inprop, water ingooi, koffie ingooi en die tydskakelaar stel, gaan slaap en wanneer jy opstaan, is die koffie reg.
’n Paar weke later is sy weer in die winkel. Die verkoopsman sien haar en vra hoe dit met die koffiemasjien gaan.
‘‘Wonderlik!’’ sê sy. ‘‘Daar is net één ding wat ek nie kan kleinkry nie en wat my grief.’’
‘‘Wat is dit?’’ vra hy.
‘‘Ek weet net nie hoekom ek elke keer wanneer ek koffie wil maak, bed toe moet gaan nie.’’
DOKTER
Dokter: “O, jy het na ’n homeopaat gegaan? En watter idiotiese raad het hy jou gegee?’’
Pasiënt: “Hy het vir my gesê om u te kom sien.’’
L. SAAYMAN, SABIE