Thursday, 25 June 2009

Beskerm so jou ID


Identiteitsbedrog is een van die vinnig groeiende misdade ter wêreld. Verlede jaar was meer as 10 miljoen Amerikaners slagoffers daarvan, en wat in Amerika gebeur, spoel vinnig oor na die res van die wêreld.

Dit word amptelik beskryf as die onwettige gebruik van iemand se persoonlike inligting om rekenings oop te maak en so sy/haar geld te steel.

Bedrieërs is so uitgeslape dat hulle net met inligting soos jou ID-nommer daarin kan slaag om vals rekenings by winkels oop te maak.

Die internet verhoog die kanse van dié soort bedrog aansienlik. Deur iets so onskuldigs soos ’n rekenaardokument van ’n onbekende bron oop te maak, kan jy jou stelsel aan sogenaamde spioensagteware of virusse blootstel. Sulke programme kan inligting aflaai terwyl jy tik, byvoorbeeld kredietkaartnommers en ander sensitiewe inligting.

Daar is natuurlik ook minder gevorderde maniere waarop bedrieërs jou persoonlike inligting kan kry, soos deur die doodgewone diefstal van jou ID-boekie of ou bankrekenings of enige dokumente met jou naam en rekeninginligting daarop uit jou vullisdrom.

Wally Gast van die versekeraar AIG Suid-Afrika sê bedrieërs samel verskillende brokkies inligting oor jou in soos jou werkgeskiedenis, vorige adresse en verjaardag sodat dit lyk asof hulle omvattende inligting oor jou het wanneer hulle die bedrog pleeg.

Buiten om winkelrekenings oop te maak, kan hulle ook in jou naam aansoek doen vir nuwe paspoorte en/of ’n ID-boekie, wat hulle dan die middele gee tot nog groter bedrog.

Hulle kan ’n telefoonrekening met jou besonderhede oopmaak en ook eiendom huur. As hulle aangekeer word weens ’n misdaad en hulle het genoeg inligting oor jou, kan hulle ook jou inligting in plaas van hul eie gee. En as hulle op borgtog vrygelaat word en die wyk neem, sal alle toekomstige lasbriewe in jou naam wees . . .

Wat moet jy doen as jy agterkom jy is ’n slagoffer?

Stel eerstens die owerhede in kennis. Meld dit aan by die polisie as jou ID-boekie gesteel is, en as jy ’n rekening uit ’n onbekende oord kry, stel die betrokke krediteur in kennis dat dit bedrog is.

Lees meer oor hoe om jou ID te beskerm in die Huisgenoot van 2 Julie.