Tuesday, 09 June 2009

Dr. Adri gee raad


WIL WEER PROBEER
Ek is in my vyftigerjare en woon die afgelope twee jaar saam met my gewese man op een erf, maar apart in my eie huis. Ons is vyf jaar gelede geskei, maar ek het daarna besef ek het ’n fout gemaak. Ek sal hom baie graag wil terughê. Hy sê hy stel nie belang nie, maar sy optrede wys die teendeel. Daar is niks wat hy nie vir my sal doen nie en naweke is ons heeltyd saam.

Daar is glad nie ’n seksuele verhouding tussen ons nie; hy is weens depressie impotent. Op my ouderdom pla dit my glad nie.

Moet ek vir hom veg of net aangaan met my lewe? Ek is bang ek maak weer ’n fout.
WONDER MAAR NET, BROEDERSTROOM

DR. ADRI ANTWOORD
Dit is inderdaad ’n vreemde situasie en ek weet nie wat die beste raad is nie, want ek het nie die volledige prentjie nie. Waarom is julle geskei? En is daardie redes nou uit die weg geruim?

Julle twee het duidelik steeds deernis vir mekaar. Hierdie aparte-saambly-reëling is ’n sjarmante toenadering tot mekaar sonder om jul onafhanklikheid of trots prys te gee.

Julle kan nog baie jare in harmonie so langs mekaar saamleef, en as dit die situasie met die minste spanning is, sal ek dit nie sommer versteur nie. Maar hoekom praat jy nie met jou eksman nie? As jy eerlik met hom is en hom vra om na jou huis terug te trek, kan hy mos daaroor nadink en ’n besluit neem? Ek dink nie jy moet vir jou man ‘‘veg’’ nie; dit klink darem te aggressief. Ek glo eerlikheid is die beste wapen.

Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 18 Junie.