
TOT DIE HEL VERDOEM
Ek wonder of jy die moed sal hê om hierdie brief te plaas. Onlangs het jy aan ’n wit man gesê dit is heeltemal reg om ’n verhouding met ’n swart vrou te hê. Wie is jy om God se wette te verander? Jou voorganger met hierdie rubriek, dr. Murray Janson, het presies dieselfde gedoen. Hy het ook gedink hy is hoër as God en in staat om heilige wette te verander. Hy is ook gewaarsku om sy fout reg te stel, maar hy het nie, en waar is hy vandag?
Jy moet onthou dat die publiek jou nader met hul probleme. Dit is jou plig om eerlike, Goddelike antwoorde te gee.
Let wel, alle volksgenote wat verbaster het, sal eendag in die ewige hel brand.
M.J. SWANEPOEL, KAAP
DR. ADRI ANTWOORD
Soos jy kan sien, het ek wel die moed om jou brief te plaas. Ek glo dat vryheid van spraak in ons demokrasie belangrik is, maar my liewe aarde, meneer of mevrou, ek is nie doodseker of jy werklik op die planeet aarde leef nie. Ek is nie ’n predikant nie, maar as jou teorie reg is dat alle mense wat ‘‘verbaster’’ het eendag gaan brand, gaan die hel ’n baie besige plek wees en die hemel dolleeg. Ek weet nie van ’n enkele mens wat volkome suiwer van bloed is nie. Jy is ook nie; daarom gaan jy saam met al ons ander gewone mense doer onder wees. Is jy gereed daarvoor?
Ek is baie trots op die genetiese poel in Suid-Afrika wat van ons net ’n sterker, beter nasie maak en opgewasse vir die uitdagings van die toekoms.
Terloops, dr. Murray Janson was iemand met oneindige deernis en liefde vir sy medemens en sonder ’n greintjie veroordeling. Ek het geen twyfel oor waar hy hom bevind nie, en ek dink hy glimlag selfs oor jou brief.
Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 25 Junie.