Friday, 01 May 2009

Vra vir Dr. Adri


Man molesteer haar

Ná ’n huwelik van amper 30 jaar skei ek en my man nou omdat hy my seksueel, emosioneel en verbaal mishandel. Ek kan nie langer my siel verkoop vir finansiële sorg nie, want liefde en respek is lankal nie meer deel van ons verhouding nie. Ek het hom al gevra om hulp te kry vir sy humeur en omdat hy my seksueel molesteer. Maar hy weier en sê ek moet verander, dan sal alles goed gaan.

Die molestering vind snags plaas as ek slaap. Hy beloer my met ’n flitslig en betas my sonder my wete of toestemming. Normale seksuele verkeer is nie vir hom genoeg nie, dus ly ek al jare aan slaaploosheid en ervaar geweldige angs. Dit voel asof ek van my menswaardigheid gestroop word en geen sê het oor wat met my liggaam gebeur nie.

Ek wil graag meer uitvind oor mans wat hul vroue seksueel molesteer. ’n Groot bohaai word gemaak oor kinders wat gemolesteer word, maar ek is nie ’n kind nie.
TINKTINKIE

Dr. Adri antwoord

Ek kan in jou brief hoor dat jy moeg, verslae en moedeloos is. Dit is nie lekker om te erken dat ’n huwelik ná soveel jaar op die rotse is nie, maar ek dink jy doen die regte ding deur jou man te verlaat. Niemand mag angstig en slaaploos wees, en onmens-waardig voel binne die huwelik nie. ’n Mens trou met ’n mens wat jy kan vertrou, liefhê en koester as jou maat en minnaar, nie om as seksobjek misbruik te word nie.

Ongelukkig word vroue wel binne die huwelik verneder, gemolesteer en verkrag. Molestering en verkragting is seksuele dade wat sonder toestemming plaasvind, al gebeur dit ook binne die huwelik. Die meeste vroue praat nie hieroor nie of is nie bewus van hul regte nie; daarom is inligting hieroor skaars.
Gelukkig hoor ek ook uit die toon van jou brief ’n vasberadenheid en ’n wil om jou eie mens te wees. Eis jou regte op, lei jou eie lewe en word die mens wat jy bedoel is om te wees.

Dr. Adri gee nog raad aan lesers in Huisgenoot van 7 Mei