
Is beleggings so maklik dat ’n mens dit by Pick n Pay kan koop? Ja, inderdaad. Die regering se kleinhandelstaatseffekte oftewel RSA Retail Savings Bonds is by sekere winkels en ook by die Poskantoor te koop.
Die voordele van dié beleggings is onder meer dat dit maklik toeganklik is, geen kommissie of fooie word betaal nie, goeie rentekoerse word gebied en bowenal is die rente gewaarborg.
Hoe werk dit? Jy koop ’n staatseffek by die staat. So leen die regering inderwaarheid geld by jou waarmee hulle geld bymekaarmaak vir staatsprojekte soos opleiding en die bou van paaie. Ná ’n vasgestelde tyd kry jy jou aanvanklike belegging en die groei in die waarde van die effek, asook rente. Staatseffekte word as ’n risikovrye belegging gesien omdat die groei en die terugbetaling gewaarborg is.
Staatseffekte is gewild onder beleggers wat nie te veel risiko wil neem nie, maar steeds redelike groei in hul belegging wil sien, asook by mense wat die sekerheid van rente op hul inkomste wil hê, soos afgetredenes. Vir ander is dit deel van ’n gediversifiseerde beleggingsportefeulje, met ’n deel van hul bates in ’n staatseffek en die res in ander bateklasse soos aandele, sê Johan Pyper, Plexus Batebestuur se navorsingshoof. Die opbrengs op staatseffekte is gewoonlik laer as dié op aandele, maar jy het nie die risiko dat jy dalk jou geld kan verloor nie.
Twee soorte staatseffekte is beskikbaar – een wat vaste rentekoerse bied en ’n ander wat inflasiegekoppel is. Kleinhandelstaatseffekte met ’n vaste rentekoers kan binne twee, drie en vyf jaar uitgekeer word. Die rentekoers word met die aankoop bepaal en rente word halfjaarliks of met die uitkeer betaal. As jy ouer as 60 is, word dit maandeliks betaal.
Die vaste koerse vir kleinhandelstaatseffekte oor twee, drie en vyf jaar is tans onderskeidelik 9,5 persent, 9,75 persent en 10,25 persent. As jy dus R10 000 oor 5 jaar teen 10,25 persent belê, ontvang jy R1 025 per jaar in rente. Dit word in twee betalings van R512,50 elk in Mei en November uitbetaal, of jy kan dit weer teen dieselfde koers belê.
Lees Huisgenoot van 14 Mei vir meer raad in dié verband.