
In tye soos nou wanneer aandeelpryse en die ekonomie swaarkry, beskou baie beleggers goud as ’n veilige hawe. Die rede is dat die goudprys geneig is om in onseker tye en ook wanneer inflasie baie hoog is, soos in die 1980’s, te styg.
Daar is drie maniere waarop gewone mense in goud kan belê, sê Mandla Mapondera, portefeuljebestuurder van Old Mutual se goudfonds. Dis deur beursverhandelde indekstrusts, beter bekend as exchange traded funds (ETF’s), effektetrusts en muntstukke.
ETF’s gee jou blootstelling aan ’n hele mandjie van beleggings op die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSE). Jou geld word belê in ’n klomp aandele wat met een verhandeling verkoop of gekoop kan word. ’n Voorbeeld is die NewGold ETF. Elke eenheid verteenwoordig ’n tiende van ’n ons goud, geprys in randterme, en volg dus die bewegings in rand van die goudprys.
Die afgelope jaar het die NewGold ETF ’n saamgestelde opbrengs van meer as 10 persent gelewer terwyl die JSE se Indeks vir Alle Aandele oor dieselfde tyd meer as 20 persent verloor het. Sedert April 2006 het die NewGold ETF ’n jaarlikse groeikoers van 30 persent behaal namate die rand verswak en die goudprys in dollar gestyg het.
ETF’s kan deur ’n aandelemakelaar gekoop word, waarvoor die makelaar dan ’n fooi vra. Aan die ander kant bied Satrix ’n beleggingsplan waar jy regstreeks in ’n ETF kan belê met ’n eenmalige bedrag van minstens R1 000 of ’n debietorder vir minstens R300 per maand.
Besoek www.satrix.co.za vir nog inligting.
Lees Huisgenoot van 21 Mei vir meer raad hieroor.