Thursday, 21 May 2009

Boeke


Anderkant Pontenilo deur Irma Joubert; Tafelberg; R175

Aan die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog ontmoet die leser boeregesinne van die Waterberg. Die kinders word groot en gaan hul heil in Pretoria soek waar die slim Klara gaan studeer en die agtermekaar Henk ontmoet aan wie sy later verloof raak. Terselfdertyd leer die leser ook die aantreklike Romanelli-seuns ken wat in ’n bergdorpie in Italië woon. Dan breek die Tweede Wêreldoorlog uit en alles verander: Jong mans gaan veg, verloor hul lewe of word gevang, soos die donkerkop-krygsgevangene wat op Klara-hulle se plaas beland.

Irma Joubert se vorige boek, Tussen Stasies, was ’n blitsverkoper. Anderkant Pontenilo kan dit ook word, want dit is ’n heerlike storieboek wat maklik lees. Die skrywer se goeie navorsing oor dié tydperk gee ’n interessante bykomende faset daaraan. Een klagte: Die voorblad is amateuragtig en skep die verkeerde beeld van die inhoud.

Eclipse deur Stephenie Meyer; Atom (versprei deur Penguin Books SA); R110

Dis vampiere teen weerwolwe in die derde boek in die gewilde Twilight-reeks oor ’n mensemeisie, Bella Swan, wat halsoorkop op ’n vampier, Edward Cullen, verlief raak. Dié keer is daar baie meer aksie, want ’n vampierleër kou sy pad deur Seattle oop en beweeg skynbaar in Bella se rigting. Daarby is daar die vyandigheid tussen Edward en Jacob wat albei haar hart wil wen.

Die liefdesdriehoek wat in die vorige boek begin het, is in hierdie een die sentrale tema. Een ou kry op die ou end die jawoord, terwyl die ander een se hart gebreek word . . .

Danksy al die aksie sal Eclipse maklik vir die silwerdoek verwerk kan word. Dis net jammer dat die boeke ál soetsappiger word en Bella se gekerm sal teen hierdie tyd die lojaalste aanhanger irriteer. Maar as jy al tot hier gevorder het, kan jy net sowel aanhou lees.