
Twilight deur Stephenie Meyer, Atom, R100
Vampier-stories is nou die in-ding, en dit is deels aan Twilight te danke, die eerste boek in ’n reeks waarvan ’n uiters gewilde rolprent gemaak is. Daar is geen towenaars of toorkuns in hierdie roman nie, tog gebeur daar snags vreemde dinge . . . Die hoërskoolleerder Bella Swan sit met ’n dilemma toe sy op haar geheimsinnige klasmaat Edward Cullen verlief raak en dan uitvind hy’s eintlik ’n vampier. Die Cullens is “vegetariërs”: Dit beteken hulle drink nie menslike bloed nie, net wilde diere s’n. Daarom is Bella veilig in haar geliefde se arms – of dis wat sy dink.
Dis ’n boeiende storie wat jou lus maak vir nog, maar moenie ’n literêre meesterstuk verwag nie. Al is dit soos Harry Potter op tieners gemik, sal ouer lesers dit ook geniet. Dit sal eerder in vroue se smaak val, want die klem val veel meer op vroulike belangstellings as op aksietonele. – JARED ORLIN
Fees van die Ongenooides deur P.G. du Plessis, Tafelberg, R175
OP 74 publiseer die bekroonde skrywer, dramaturg en draaiboekskrywer P.G. du Plessis sy eerste Afrikaanse roman. Hierdie meesleurende verhaal draai om die Van Wyk-familie gedurende die Anglo-Boereoorlog en daarna. P.G. is ’n formidabele storieverteller en laat die onvergeetlike karakters se intriges en worstelinge soos ’n boeiende rolprent in jou gedagtes afspeel. ’n Vroeëre, Engelse weergawe van die verhaal is verlede jaar as TV-reeks op M-Net uitgesaai.
Die roman bied ’n verfrissende maar ook ontstellende blik op een van die donkerste tye in ons land se geskiedenis en laat ’n mens opnuut besef daar is geen wenners tydens ’n oorlog nie. Die skrywer fokus op gewone mense se ervarings, uitdagings en beproewings. Sy navorsing en kennis van die fynste detail is verstommend. Dit verdien sakke vol pryse en derduisende lesers. – ERNS GRUNDLING