Thursday, 12 March 2009

Koop so aandele


’n Leser vra: Hoe maklik is dit om met aandele op die Johannesburgse Sekuriteitebeurs te speel?

As jy beleggings soos ’n effektetrust, lewensversekeringspolis of aftree-annuïteit het, word alles of ’n deel van dié beleggings eintlik reeds namens jou op die aandelebeurs belê. Baie mense wil egter self betrokke raak.

Slegs aandelemakelaars mag aandele op die beurs verhandel, maar gelukkig maak die elektroniese era dit vir die res van ons maklik om self te spekuleer. Al wat benodig, is ’n rekenaar en internetkoppeling. ’n Aandelemakelaarsmaatskappy wat internetverhandeling bied – alle banke en ook verskeie beleggingsmaatskappye – hanteer dan die verhandeling van jou aandele. Op hul webtuistes is die nodige inligting soos die koste, en die meeste het skynverhandeling-toetslopies waar jy kan oefen.

Jy kan ook ’n makelaarsfirma gebruik om portefeulje-aandele vir jou te bestuur, met dié voordeel dat jy ’n kundige het wat die beurs dophou en namens jou koop en verkoop. ’n Voordeel van internetverhandeling is dat jy aandele teen enige klein bedrag kan koop, waar sommige makelaars byvoorbeeld net beleggings bo R250 000 hanteer.

Hoe om aanlyn te koop

Die eerste stap vir internetverhandeling is om op die web-tuiste vir ’n handelsrekening aansoek te doen. Wanneer dit geaktiveer is, moet jy elektronies geld daarin oorbetaal voor jy aandele kan koop. Daarna kan jy die aandele kies en ’n koop-opdrag insit vir spesifieke aandele teen ’n spesifieke prys. Sodra die aandele teen dié prys te koop aangebied word, sal dit namens jou verhandel word.

Om jou teen skielike prysverlagings te beskerm kan jy ook ’n verkoop-opdrag insit sodat jou aandele verkoop word voor dit onder ’n sekere prys daal. Jy word per e-pos en SMS verwittig as die transaksies plaasvind.

Lees meer oor hoe jy te werk moet gaan in Huisgenoot van 19 Maart.