
EET SPINASIE
Klein Sannie se tante kom kuier. Die aand aan tafel sê sy vir Sannie: “Eet jou spinasie en jy sal beeldskoon word.”
Waarop Sannie vra: “Was daar dan nie spinasie in tannie se tyd nie?”
G.C. OGILVIE, PIETERMARITZBURG
EK TJOP AF
Koos, Stoffel en hul vroue eet in ’n spoggerige restaurant. Skielik duik Koos onder die tafel in.
“Koos,” sis sy vrou, “wat soek jy onder die tafel?”
“My tjop het op die grond geval.”
“Los die tjop. Ons vra die kelner vir ’n ander een!”
“Maar my tande sit nog in die tjop vas!” kla Koos.
H. WAIT, SYDENHAM
BAIE SKOON
Klant: “Hierdie restaurant het seker ’n baie skoon kombuis?”
Kelner: “Ja, meneer, dit is so. Maar hoekom vra u?”
Klant: “Omdat alles na seep smaak.”
HESTER SMITH, BLOEMFONTEIN
MOOI KNOPE
“Ai, dominee, dis darem mooi knope aan jou hemp. My man het op ’n tyd ook ’n hemp met sulke knope gehad.”
“Dankie, suster. Ja, my vrou het hulle aangewerk. Sy kry die pragtigste knope in die kollekteborde.”
HESTER SMITH, BLOEMFONTEIN
GELD GESPAAR
Klein Gatiep kom by die huis en sê vir sy pa: “Ek het vandag R5 gespaar.”
“En hoe het jy dit gedoen?” wil sy pa weet.
“Ek het agter die bus aan gehardloop,” sê klein Gatiep.
“Jy is dom!” raas sy pa. “As jy agter ’n taxi aan gehardloop het, het jy R15 gespaar!”
H.J. VAN DEN BERG, JEFFREYSBAAI
GEEN MUISE
Die seuntjie sit sy eerste melktand wat hy wissel in sy skoen. Hy stap na die huiskat, vat sy gesig in sy hande en sê: “Luister mooi. Vannag word daar nie muise in dié huis gevang nie!”
JACO SMIT, HUMANSDORP
SELFOON GESTEEL
Die ou tante stap by die polisiekantoor in.
“My selfoon is gesteel,” sê sy.
’n Konstabel neem haar verklaring af.
“Watter soort foon was dit?” vra hy.
Die tante antwoord: “Dit was ’n Ericsson, maar nou is dit ’n Diefsin.”
JO-ANNE GROENEWALD, SELCOURT