
DOGTER WIL WEG
Ek is 30 jaar oud en bly by my ma. Ek werk lang ure en is dus skaars by die huis. Ek gee haar elke maand amper die helfte van my salaris.
Die probleem is dat sy nie wil ophou krap in my persoonlike besittings nie. Sy bel my vriende en selfs my werk en maak stories oor my op. Sy vertel selfs vir my kêrel stories oor my sodat ek en hy moet uitmaak.
Ek het al met haar daaroor gepraat, maar sy ontken alles. Asseblief, help my. Ek is heeltyd depressief en kan nie meer so leef nie.
HARTSEER, WES-KAAP
DR. ADRI ANTWOORD
Nee, ’n mens kan nie so leef nie. Die verhouding tussen jou en jou ma het toksies geword. As jy nie drastiese stappe doen nie, kan dinge een kwade dag op die spits gedryf word, en dan doen en sê jy dalk dinge wat moes gebly het.
Dit klink asof jou ma alles in haar vermoë doen om jou by haar te hou, selfs al moet sy jou beskinder. As jy en jou kêrel se verhouding skipbreuk ly, het sy jou mos weer ten volle vir haarself. Hoe kortsigtig kan ’n mens wees, want met dié optrede dryf sy jou juis weg van haar!
Die voor die hand liggende oplossing is dat jy die huis moet verlaat. Prakties gaan dit seker nie maklik wees nie, want jy sal vir jou eie blyplek moet betaal én jou ma is jou bydrae tot haar huishouding kwyt. Maar dit is beter om alleen en arm maar gelukkig te wees, as by ’n ma wat jou lewe oorheers.
Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 12 Maart.