Tuesday, 24 March 2009

Boeke


’N VURK IN DIE PAD DEUR ANDRÉ P. BRINK (Human & Rousseau) R310

Hy skryf soms onbeskaamd reguit oor sy eie lewe soos hy in sy romans oor sy karakters skryf. Maar die skrywer bly ’n enigma, want hy glo nie aan kiss-and-tell nie. ’n Belangrike vrouekarakter in sy lewe bly daarom tot die einde net die letter H. Hy het hierdie memoires vir sy vyfde vrou, die jong Karina, geskryf nadat hy jare lank teen die “kunsmatigheid en selfgesentreerdheid” van ’n outobiografie geskop het.

Hierin speel hy oop kaarte oor sy vroeë politieke sienings as student in Potchefstroom toe hy as lid van die Ruiterwag verkies is, en oor hoe skokkend geweld sy jeug deurspek het. Hy skryf oor sy skuldgevoel dat hy nie vroeër by die stryd teen apartheid betrokke geraak het nie, en oor sy ontnugtering met die nuwe bedeling wat baie aan die oue herinner. Dis ’n sonderlinge leeservaring wat jou brein én siel met humor en patos voed. – PIETER VAN ZYL

LOS DONKIES DEUR H.S. VAN BLERK (Protea Boekhuis) R130

In die eerste deel van die vorige eeu hou ’n groep armlastiges in die Molopo liggaam en siel aanmekaar deur brandhout met donkiekarre na die delwerye aan te ry. Dit is harde werk en die geld bly skraps, maar met saamstaan kry die groepie tog kop bo water gehou.

Die mans se wedervaringe op pad met hul donkiekarre word beskryf en hulle vertel wonderlike stories om die kampvuur terwyl hul vroue en kinders by die huis agterbly. ’n Mens lees ook hoe hulle as gemeenskap en gesinne funksioneer wanneer hulle weer by die huis is. Maar dan skud tragiese gebeurtenisse die gemeenskappie tot in sy fondament en laat hulle uiteindelik uitmekaar spat.

Los Donkies het die eerste keer in 1950 verskyn en alles in die boek kom uit ’n vergange tyd: die ongekunstelde karakters, die agtergrond waarteen die verhaal afspeel, selfs die taalgebruik. – JAN BOSMAN

Kry meer vermaak-nuus in Huisgenoot van 2 April