
Ná die ekonomiese afswaai verlede jaar wat wêreldwyd onder aandelebeurse gemaai het, gaan dit ál beter met die aandelemarkte.
Baie beleggers wonder nou of hulle die geleentheid misgeloop het om goeie aandele teen afslagpryse te kan koop.
Die meeste kenners meen dit is nie te laat nie. Baie sê ook buiten dat daar Suid-Afrikaanse aandele is wat goeie waarde vir geld is, is dit nou ’n goeie tyd om blootstelling aan buitelandse aandele te kry. Die vraag is net watter tipe aandele dan oorweeg moet word.
Alwyn van der Merwe, beleggingsdirekteur van Sanlam Private Beleggings, sê daar is steeds ’n kans om ’n goeie portefeulje aandele teen ’n billike prys op te bou en ook ’n hoë dividend-inkomste daaruit te verdien.
Plaaslike aandele wat in dié kategorie val, is maatskappye soos Kumba, Brait, Grindrod, PPC, Metropolitan, Illiad, Oceana, Reunert, Hudaco en Abil. Die historiese dividend-opbrengste van byvoorbeeld Brait, Kumba, Illiad en PPC is onderskeidelik 10,2 persent, 8,15 persent, 7,7 persent en 7,75 persent.
Aandele in sulke maatskappye met goeie dividende kan ’n goeie alternatief vir kontantbeleggings wees, mits beleggers met die risiko van aandele se wisselende pryse kan saamleef.
Van hierdie maatskappye se dividende kan wel op kort termyn onder druk wees. Veral dividende van mynbou-aandele is kwesbaar, maar Alwyn sê oor ’n tydperk van vyf jaar behoort die dividendgroei mooi te herstel.
Die geheim is dus om nou aandele te koop wat ’n goeie prestasierekord het en waarvan die inkomste in die toekoms sal groei. Dis ’n moeilike keuse vir iemand wat nie self kundig is nie, maar ’n beleggingsadviseur sal jou kan wys hoe sekere maatskappye se groei lyk en wat ontleders vir hulle voorspel.
Kry nog raad oor aandele in Huisgenoot van 10 September.