
Die ekonomiese krisis beteken dat mense én sakeondernemings nou baie mooier na hul geldsake kyk. Dit kan dus ’n gevoelige sakie wees as jy nou oor ’n salarisverhoging wil gesels, of oor behoorlike vergoeding in ’n nuwe pos.
Daar is gelukkig basiese wenke wat dié proses selfs te midde van die druk op maatskappy-finansies vir jou makliker kan maak. Die eerste stap is om jouself deeglik voor te berei. Dit beteken dat jy moet uitvind watter salaris billik is. Kyk wat markverwant is vir jou bepaalde pos. Jy kan salarisvergelykings tref deur na advertensies vir poste te kyk, met ’n personeelagentskap te praat of navorsing te lees soos Careers24.com se Salary Survey op die internet wat markverwante vergelykings tussen beroepe wys. Navorsing oor die nuutste syfers vir dié oorsig word vandeesmaand gedoen en syfers vir 2009 sal in Januarie 2010 bekend wees.
Maar jy moet ook navorsing oor jouself kan aanbied. Jy moet dus jou salarisversoek kan motiveer. Om bloot vir meer geld te vra is nie genoeg nie. Maak ’n lys van jou sterk punte, verantwoordelikhede en dit wat jy bereik het. Het jy ’n verskil gemaak en lewer jy ’n diens wat ’n verhoging regverdig? Jou vaardighede en ervaring kom ook hier ter sprake – dalk het jy ’n bykomende kwalifikasie gekry wat onder die bestuur se aandag gebring kan word.
Dis goed om jouself vooraf in die bestuurder se skoene te sit en jouself af te vra watter vrae jy kan verwag. Kry dus jou argumente in plek vir wanneer vrae gestel word oor hoekom jy meer werd is. Wees versigtig om nie verskonend en ook nie aggressief te wees nie. Wees spesifiek, noem besonderhede, maar wees altyd diplomaties. Dis ook belangrik dat jy die salarisstrokie verstaan, en geen salarisstrokie lyk dieselfde as ’n ander nie. Voordele en belastingvoordele kan op verskeie maniere deel van ’n salarispakket vorm. Dit beteken dat ’n nuwe aanbod dalk voor belasting hoog kan lyk, maar daar gaan nie noodwendig meer geld in jou sak wees aan die einde van die maand nie.
Lees die res van die artikel in Huisgenoot van 24 September.