
Boeke*** WAAR’S WILLIE? DEUR MARTIN HANDFORD; Human & Rousseau; R110
Toe my kinders klein was, was Willie nog Wally. Maar sedert 1996 praat hierdie reisende, wegkruipende kêrel Afrikaans ook.
Eintlik praat hy bitter min. Wat hy doen, is stap – op die strand, in ’n sportstadion, by die stasie. En altyd tussen duisende ander mense.
Dis hoekom hierdie boeke so gewild is (en pas heruitgegee is) by kinders en selfs grootmense, want jy moet hom soek.
Dit gee ure se pret af en leer Willie-soekers konsentreer en fyn kyk. Agter-in die boek is nog uitdagings wanneer op elke dubbelblad nog versteekte dinge opgespoor moet word, soos ’n agterstevoor skiër, ’n onwettige visserman, ’n kaalholler, ’n drukkie op ’n bank en nog veel meer. Martin Handford onderskat beslis nie kinders se sin vir die bisarre nie!
Die tweede boek, Waar’s Willie Nou?, is ook teen R110 beskikbaar.
**** NEFERTITI DEUR MICHELLE MORAN; Quercus; R119,95
Die boeiende verhaal van Nefertiti se opgang tot Farao van Egipte word deur haar suster, Mutnodjmet, vertel. Nefertiti trou met kroonprins Akhenaten en Mutnodjmet word saam met haar na die paleis toe gestuur om haar diensmaagd te wees.
Mutnodjmet haat die politiek en rugstekery in die paleis en droom van ’n eenvoudiger lewe. Prins Akhenaten is onstabiel en paranoïes, maar deur die krag van Nefertiti se persoonlikheid word sy die mense se prinses en later hul farao. Terwyl sy die werklikheid uit die oog verloor, is dit haar suster wat haar met haar onderdane in voeling hou. Toe Mutnodjmet haar eie geluk probeer vind, dryf dit ’n wig tussen die susters in.
Die boek begin wanneer die twee susters jonk is en volg hulle tot hul dood. Die boeiende boek voer jou na antieke Egipte mee en blaas lewe in die era.
Kry hope boekenuus in ons maandelikse boekeseksie in Huisgenoot van 10 September.