
DIT MAAK WARM
V: Wat het die son, alkohol en ’n aanloklike vrou gemeen?
A: Al drie maak ’n man warm!
M. BOTHA, UITENHAGE
HY LYK GOED
Twee manne verloor hul ou drinkebroer. Op die begrafnis kyk hulle na hom in sy kis. Die een sê: ‘‘Jinne, maar ou Anneries lyk goed!’’
Waarop die ander een sê: ‘‘Wel, jy moet onthou hy het die afgelope drie dae nie ’n druppel drank oor sy lippe gehad nie!’’
HESTER, NAMIBIË
ALMAL GELEES
Toe die skool se biblioteekjuffrou aankondig dat sy weggaan na ’n ander skool, vra een van die juffrouens vir ’n gr. 3-leerder:
‘‘Waarom dink jy gaan juf. Van der Merwe na ’n ander skool toe?’’
Hy dink ’n bietjie en sê toe: ‘‘Ek dink sy’t reeds al ons biblioteek se boeke gelees!’’
HESTER, NAMIBIË
OORGEWIG
Oom Daan besluit om vir die eerste keer in sy lewe te begin oefen omdat hy 50 kg oorgewig is. Hy soek toe iemand om vir hom te wys watter strekoefeninge hy moet doen.
Hy kry ’n persoonlike afrigter met die naam Kosie en hulle begin oefen.
Kosie: ‘‘Oom Daan, strek die arms. Rek dit so ver moontlik uit.’’
Oom Daan: ‘‘Reg so, Kosie!’’
Kosie: ‘‘Raak aan die tone met die hande, sonder om die knieë te buig.’’
Oom Daan: “Nee man, Kosie! ’n Mens vat mos nie aan goed wat jy nie kan sien nie.’’
L.ZEELIE, E-POS
DEK MAAR MIN
V: Hoekom is mediese fondse nes ’n hospitaaljurk?
A: Jy dink jy’s ten volle gedek, maar jy is nie.
HESTER, NAMIBIË
AARDE TOE
Voor haar troue sweef ’n vrou in die wolke. Ná haar troue sit sy haar voet neer.
HESTER, NAMIBIË
JY SAL SUKKEL
V: Hoekom is ’n vrou se mond nes ’n stukkende garagedeur?
A: Jy sukkel jou gedaan om hom toe te kry.
HESTER, NAMIBIË
GRATIS VLEIS
Die vliegtuig van die Zimbabwiese lugdiens wil van die Harare-lughawe opstyg, maar kom nie sover nie. Die vlieënier laat die beheertoring weet: ‘‘Ons kan nie opstyg nie. Daar lê ’n dooie bok aan die einde van die aanloopbaan.’’ Beheertoring: ‘‘Roger. Ons sal dadelik die verversingsdienste laat weet om die bok te kom verwyder.’’
HESTER, NAMIBIË
BOER JY?
Jy is dalk ’n boer as:
Jou regterarm bruiner is as jou linkerarm.
Jy beter op die grondpad as op teerpad kan bestuur.
Vier voertuie agter mekaar rowwe verkeer is.
Jy versnel pleks van rem as ’n jakkals oor die pad hardloop.
Jy skaapkraal toe stap pleks van slaghuis toe as die vleis op is.
Hoender en vis vir jou groente is.
NITA VAN DER VYVER, BAINSVLEI