Wednesday, 16 September 2009

Huisgenotjies


GROENTEBREDIE
Die minister van gesondheid besoek ’n hospitaal. Sy sien ’n pasiënt wat maar sleg lyk, ondersoek hom en skryf ’n voorskrif uit. ’n Week later maak sy weer ’n draai by die hospitaal om te sien hoe dit met die pasiënt gaan.

‘‘Hoe voel jy ná die voorskrif wat ek vir jou gegee het?’’ vra sy.

‘‘Voorskrif?’’ vra hy verbaas. ‘‘Ek dog dis ’n resep vir groentebredie!’’
WERNER OOSTHÜYSE, BENONI

NOODHULP
Die blondine neem noodhulpklasse. Op ’n dag stap sy in die straat en sien ’n man wat op die sypaadjie lê. Sy storm op hom af en begin dadelik mond-tot-mond-asemhaling toepas.
Die man spook om los te kom en vra: ‘‘Wat dink jy doen jy?’’

‘‘Ek het gedink jy het ’n aanval of iets gekry,’’ sê die blondine.

Waarop die man sê: ‘‘Nee, ek lê hier en hou ’n lig vas vir die man wat hier onder in die mangat werk.’’
W.J. VAN DER MERWE, AUSSPANPLATZ

BRANDTRAP
Elke keer wanneer die ou dame in ’n hotel tuisgaan, soek sy heel eerste die brandtrap. Op ’n dag maak sy ’n deur oop, en daar staan ’n man poedelnaak onder die stort.

‘‘Ekskuus!’’ roep sy vervaard uit. ‘‘Ek soek die brandtrap!’’

Sy draai om en maak spore, maar sy het skaars ’n paar treë gevorder, toe storm die man met ’n handdoek om agter haar aan.

‘‘Waar is die brand?’’ gil hy.
W.J. VAN DER MERWE, AUSSPANPLATZ

GENIET DIE LEWE
Man aan boemelaar wat langs die straat sit en bedel: ‘‘Hoekom werk jy nie? Jy lyk vir my heel fris en gesond.’’

Boemelaar: ‘‘Hoekom moet ek werk?’’

Man (geskok): ‘‘Hoe kan jy nog vra? Jy moet werk sodat jy eendag ná jare se getroue diens ’n goeie pensioen kan kry wanneer jy aftree. Dan kan jy jou oudag rustig en sonder sorge geniet.’’

Boemelaar: ‘‘Wel, ek geniet dit nou al sonder al daardie moeite waarvan jy praat.’’

Nog grappies in Huisgenoot van 24 September.