
GETROUD MET MAMMA-SE-DOGTERTJIE
Dit is nou al die hoeveelste artikel wat ek lees van vroue wat kla dat hulle met ’n mamma-se-seuntjie se getroud is en die nare gevolge daarvan vir hul huwelik. Wel, ek is getroud met ’n mamma-se-dogtertjie. My huwelik is in sy peetjie weens ’n ma wat haar dogter van kleins af so manipuleer dat sy nie haar ma se rokspante kan los nie. En toe ek ons huwelik eerste wou stel, sê sy haar ma is belangriker, want bloed is mos dikker as water. Is dit die moeite werd om haar te probeer terugkry as sy niks wil doen om ons huwelik te red nie? C VAN P
DR. ADRI ANTWOORD
O my aarde, ek wonder wat is die ergste: om getroud te wees met ’n mamma-se-seuntjie of met haar dogtertjie? Die normale verloop van die lewe is dat ’n ouer sy kind spreekwoordelik uit die nes moet skop. Jy doen ’n kind geen guns as jy hom (of haar) sy hele lewe lank oppiep en vertroetel nie – jy help die kind net die ellende in. Verstaan my mooi, dit beteken nie ’n ouer moet ’n kind verstoot of nie bystaan in nood nie, allermins, maar ’n kind moet op sy eie bene leer staan. Hoe gouer, hoe beter. Dring aan op huweliksberading sodat hierdie probleem nugter en objektief bespreek kan word. En as sy nie wil nie . . . wel, gun dan maar vir skoonma haar bedorwe prinsessie. Mag hulle gelukkig wees in ’n glaskasteel terwyl hulle al die vreugde van die ware lewe misloop.
Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 1 Oktober.