
Elke nou en dan hoor ons van kunswerke wat rekordpryse op veilings haal. Dink maar net aan die Tretchikof-skildery Fruits of Bali wat verlede jaar in Kaapstad vir R3,74 miljoen verkoop is. Kuns en antieke ware as deel van beleggingsportefeuljes het die afgelope paar jaar internasionaal taamlik gewild geword, sê Tony Burgess van die afslaersmaatskappy Stephan Welz & Company.
Maar, vra ’n leser, kan kuns oor dieselfde kam as byvoorbeeld aandele geskeer word?
Dieselfde reëls geld vir kunsbeleggings as vir enige ander – hoe meer jy die mark bestudeer, navorsing doen en raad vra by spesialiste, hoe kleiner word jou risiko en hoe beter die kans dat jou kunswerk in waarde sal toeneem.
Kyk eers na die finansiële prestasie van die kunstenaar se werke. As dit algaande gewilder en waardevoller geword het, is dit moontlik dat jy goeie kapitaalgroei op jou koop kan geniet. Jou veiligste kopies is ongelukkig van kunstenaars wat reeds stewige pryse – en soms onverwags hoog – behaal. So het Maurice van Essche se skildery Carrying the Day’s Catch meer as dubbel die verwagte prys van R728 000 op ’n veiling behaal, en Stanley Pinker se olieverfskildery Seated Nude teen R470 000, bykans vyf keer meer as wat verwag is.
’n Betreklik onbekende skilder soos William Methven se Drakensberg-landskap het R201 000 behaal, en Tony troos dat dit darem nie net die bekende name is wat potensieel goeie beleggingswaarde het nie. Jy kan ook kuns van nuwe kunstenaars koop, maar dis uiteraard ’n dobbelspel. Koop dus altyd iets wat jy graag in jou huis wil hê, en as dit in waarde toeneem, is dit ’n bonus.
Tony sê as jy ’n stewige bedrag in kuns kan belê, moet jy jou aankope tussen gevestigde en nuwe skilders versprei en ook ander werke soos beeldhouwerk koop. Johan Kleu, beleggingsprodukbestuurder by Liberty Life, sê ’n belegger moet nooit al sy eiers in een mandjie sit nie. Dis daarom nie die beste idee om ál jou spaar- of erfgeld in ’n kunswerk te belê nie, maar om jou bates te diversifiseer.
Lees meer in Huisgenoot van 6 Augustus oor wat jy in ag moet neem as jy in kuns wil belê.