Friday, 24 July 2009

Boeke


VYF TALE VAN DIE LIEFDE
DEUR GARY CHAPMAN
Lux Verbi, R99,95

“Hierdie boek is nie ’n akademiese verhandeling nie. Ek het dit nie geskryf vir mense wat ’n studie van die huwelik wil maak nie, maar wel vir getroude mense, vir diegene wat die ‘verlief’-gevoel ken.”

So skryf Gary Chapman, die Amerikaanse Baptiste-predikant wat ’n wye aanhang geniet onder Afrikaanse lesers.

In hierdie boek – met ’n Bybelstudie wat deur Amy Summers opgestel is – verduidelik hy die verskillende liefdestale wat getroudes praat: hoe iets wat jy as baie teer ervaar, jou wederhelfte heeltemal kan koud laat. As jy dus leer watter “taal” jy met jou maat moet praat, is dit ’n kortpad na sy of haar geluk, sal jy sy of haar “diepste emosionele behoeftes bevredig” en hom of haar laat veilig voel in jou liefde.

As jou maat ook jou liefdestaal leer praat, het julle ’n wen/wen-situasie!

DIGITAL PHOTO-GRAPHER’S HANDBOOK
DEUR TOM ANG
Penguin, R450

Tom Ang is ’n bekroonde fotograaf en topverkoper-skrywer wat as tegniese en fotoredakteur by verskeie spesialis-tydskrifte en televisieprogramme gewerk het.

Of jy net graag gesinsfoto’s neem of fotografie as ’n ernstige stokperdjie beskou, in die vierde bygewerkte uitgawe van sy gewilde handboek sal jy baie nuttige inligting kry.

Dit begin met basiese tegniese inligting oor digitale en filmkameras, monitors, skandeerders, drukkers en programmatuur voor aandag gegee word aan die ABC van digitale fotografie.

Hy verduidelik byvoorbeeld kleurmanipulasie en gee kits-oplossings vir algemene probleme soos kleurbalans, lensprobleme en beeldverwringing. In watter mate jy ook al in fotografie belangstel, dié boek sal jou beter foto’s laat neem.

Lees ander resensies in Huisgenoot van 30 Julie.