Tuesday, 07 July 2009

Boeke


Naglig deur Christa Jonker-Jordaan (Carpe Diem, R94,95)
“Daar is vroue wat ʼn krisis in hul middeljare ontwikkel en dan begin smag na hul verlore jeug. Hulle reken dat hulle eintlik ’n jonger liefde in hul lewe kort. Hierdie roman is vir hulle geskryf, maar ook vir almal wat worstel met ’n sonde wat hulle glo God nie kan vergewe nie.”

So skryf Christa in haar voorwoord tot die verhaal van Moon, haar man, Albér, en die jong Daniel. Moon is ’n verveelde veertigplusser toe sy die aantreklike fotograaf by sy uitstalling ontmoet, waar daar van die eerste oomblik ’n vonk tussen hulle is en sy hom nooi om na haar skilderye te kom kyk. Hy kom met ’n bos maanblomme . . . Albér glo nie hy verdien die “hele Daniel-ding” nie. “Hy kom elke aand huis toe, na haar toe. Hy is nie die romantiese siel wat sy is nie, maar hy doen moeite om soms iets romanties te laat gebeur.”

’n Heerlik, meesleurende verhaal. – San Lotz

Skeletons at the Feast deur Chris Bohjalian (Simon & Schuster, R194,95)
Dit is 1945 en tydens die laaste bloedige maande van die Tweede Wêreld-oorlog pak ’n Pruisiese boervrou en twee van haar kinders ’n uitmerge-lende reis aan oor die breedte van die sterwende Derde Ryk. Die Emme-richs probeer een tree voor die naderende Sowjet-leër bly terwyl hulle terselfdertyd ’n Skotse oorlogsgevangene vir die speurende Nazi’s versteek.

Manfred sluit by hulle aan. Hy is ’n Nazi-offisier wat in werklikheid ’n Jood is wat aan die lewe probeer bly deur “weg te kruip” in die boesem van die vyandelike leër.

Elkeen van die reisigers worstel om te aanvaar hoe die oorlog hulle verander het. Mutti Emmerich bevraagteken haar geloof in die Nazi-ideologie, haar dogter, Anna, tob oor haar affair met die Skot, en Manfred smag om sy ware identiteit bekend te maak. Spannend tot op die einde. – Claire Reddie

Kry nog boekenuus in Huisgenoot van 16 Julie.