Tuesday, 07 July 2009

Dr Adri gee raad


Oud, maar nog nie koud
Ek is ’n wewenaar van 83 jaar. Ek en my vrou het ooreengekom die een wat die ander een oorleef, sal net die nodigste oorhou en die res van ons besittings aan die armes gee. Toe my vrou aan kanker oorlede is, het ek dit gedoen.

Ek deel nou ’n huis met ’n ander man, maar hy is ’n kwaai. Ek wil graag ’n beter lewe hê, dus wil ek op ’n plaas gaan bly by ’n weduwee, geskei-de vrou of alleenlopende plaasvrou wat hulp van ’n goeie man verwag, en dit ook van my sal kry. Ek is nog fier en sterk.
Oom Wollie

Dr. Adri antwoord
Ai, oom Wollie, jy is sekerlik die laaste troebadoerswerwer op dié aarde. Jy loop met drome in jou oë en ’n gedig in jou hart. Jy lê rose op jou vrou se graf en staan in wind en weer langs die pad om ’n vrou te besoek. Dis wonderlik, maar nie baie prakties nie. Waarom moes jy jou aardse besittings weggee net omdat jou vrou dood is? Het jy dit nie nodiger gehad as die mense vir wie jy dit gegee het nie?

Ek glo jy is ’n eerbare man, maar jy moet besef jy is nie meer ’n jong vryer nie. Op jou ouderdom gaan jy nie meer vir lank hulp kan gee aan alleenlopende vroue nie, hulle sal tien teen een vir jou moet sorg. Hulle weet dit ook, dis dié dat daar niks van jou toenaderings kom nie. Boonop het jy niks op jou naam nie, behalwe ’n brandende hart. So baie soos ek van jou hou, sal ek nie wil hê dat (byvoorbeeld) my ma ’n platsak ou man in haar huis moet inneem nie.

Kyk of jy verblyf op ’n ander plek kan kry, maar vergeet daarvan dat ’n vrou tot jou redding gaan kom.

Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 16 Julie.