Tuesday, 07 July 2009

ʼn Mediese neseier


Mediese inflasie is gewoonlik hoër as verbruikersprysinflasie, en gevolglik styg mediese fondse se premies meermale ook meer as inflasie en die meeste mense se jaarlikse salarisverhoging.

Veral ná aftrede is dit iets om deeglik mee rekening te hou, want die maandelikse inkomste van die oorgrote meerderheid pensioentrekkers daal ná aftrede – dikwels nogal ingrypend – en die premies vir jou mediese fonds kan dan groot happe uit jou geld vir die maand neem.
Boonop het ouer mense gewoonlik ’n groter behoefte aan gesondheid-sorg as jonger mense, en hulle moet dan meer uit hul sak opdok vir dié deel van hul dienste en medisyne wat die fonds nie dek nie.

Dit gebeur dan selfs dat bejaardes hul gesondheid afskeep omdat hulle skrikkerig is vir die ekstras op die dokter se rekening. Daar lê groot veranderinge vir Suid-Afrika se gesondheidstelsel voor, maar die algemene verwagting is dat dit lank sal neem voor verpligte gesond-heidsversekering uitvoerbaar gaan wees en staatsgeriewe in die land voldoende opgeknap gaan wees sodat mense wat nou van privaat sorg gebruik maak, dit met gemoedsrus sal gebruik.

Die vraag is hoe jy intussen vroegtydig voorsiening kan maak vir genoeg geld om ’n mediese fonds en dus goeie private sorg te kan bekostig. Kenners beveel een van twee spaarplanne vir mediese sorg vir jou oudag aan. Die eerste is om tot ’n effektetrustbelegging by te dra. So kan jy ’n belegging opbou wat eendag jou mediese uitgawes as afgetredene kan dek.

Onthou egter dat jy belasting op die groei van die belegging betaal. Hermann Labuschagne van Dynamic Wealth sê daar is wel rente- en kapitaalwinsbelastingvrystellings op effektetrusts, maar dit hang af in watter mate dit dalk reeds deur van jou ander beleggings opgeneem is. As jy byvoorbeeld reeds rente op ’n vaste deposito by die bank verdien en dis meer as die belastingvrye bedrag van R21 000 per jaar vir mense onder 65 of R30 000 vir mense ouer as 65, is jou belastingvoordeel reeds gebruik.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 16 Julie.