
Die gewilde Voetspore-avontuurreeks is weer op die kassie, en dié keer het die manne van die mees suidelike punt van Afrika noordwaarts koers gekies tot in Gaboen. Johan Badenhorst en sy Voetspore-avonturiers weet nie net hoe om modderpaaie, springgety en die Afrika-hitte te trotseer nie, hulle is ook ’n klomp kranige kokers. Hier is een van hul resepte.
Wildfilet met ’n spekbaadjie
Wanneer jy die koerant-aflewering gestaak en die spaarsleutels by die bure afgegee het, maak seker jy het alles in jou kosboks vir die marinade vir dié heerlikheid. As dit nog vroeg in die vakansie is en jou vars voorrade is nog nie uitgeput nie, geniet die wild saam met ’n vars vrugtesalsa. Of sit dit voor met aartappelslaai en ’n sampioensous.
Bestanddele:
Vleis:
1,5 kg gemsbok- of rooibokfilet, in 3 cm-skywe gesny indien verkies; 15 ml sojasous; 100 ml olyfolie; 45 ml suurlemoensap; 3-4 knoffelhuisies, fyn gekap; sout en peper; 2 pakkies (250 g elk) rugspek; sosatiestokkies
Vrugtesalsa:
1-2 kiwivrugte, in klein blokkies gesny; goue pikantrissies, in blokkies gesny; bloubessies
Metode:
Vleis:
Marineer die filette vir sowat drie dae in ’n plastiekhouer in die sojasous, olyfolie, suurlemoensap en knoffel. Seël die houer wanneer jy dit inpak. Wanneer jy reg is om te braai, haal die vleis uit die houer, geur dit met sout en peper en draai toe met repe spekvleis. Steek vas met sosatiestokkies. Moenie sukkel met tandestokkies nie, dit gaan jou net frustreer. Die sosatiestokkies, wat almal in dieselfde rigting moet kyk, verleen ’n stewigheid aan die filet wat dit maklik maak om dit met ’n braaitang om te draai. Braai die filet tot alkant bruin en steeds pienk van binne. Skywe behoort jou nie langer as 3-4 minute te kos nie, terwyl ’n heel filet sowat 20 minute oor matige tot warm kole gebraai kan word. Wanneer die vleis gesny word, moet dit nog pienk tot rooi aan die binnekant wees. As dit deurgaar is, sal dit droog wees. Die marinering van die vleis sorg dat dit murgsag is.
Vrugtesalsa:
Meng al die bestanddele vir die salsa en sit dit voor saam met die vleis.
– In Huisgenoot van 11 Desember leer die manne van Voetspore jou egte kampkos maak.