Friday, 12 December 2008

Boeke


NORREVØK DEUR C. JOHAN BAKKES
Human & Rousseau, R140

Ontspan, die titel is nie ’n vloekwoord nie – daar is regtig so ’n dorpie in Siberië. Hierdie deurwinterde reisiger se verhale is wel met hardebaard-woorde gepeper. Op die titelblad word juis gewaarsku: “Hy skryf nie vir sensitiewe lesers nie . . .’’

Die leser reis lekker saam. Hy is hierdie koel hippie-oom wat op elke stasie ’n bier saam met jou sal drink en hy vang die wonderlikste dinge aan: Kyk witman-alleen ’n TV-sokkerwedstryd tussen Zambië en Suid-Afrika in die gatkant van Lusaka, verdwyn dieper die hole van Kaïro in saam met ’n onbekende jong meisie, gaan soek na ’n verlore stad in die Kalahari en vind die koning van Kabula. Hy haal Baudelaire aan: “The real travellers are those who leave for the sake of leaving.’’ En kondig dan trots aan: “Eisj, dis ek!’’ Enige leser wat hierna nie met wanderlust begeester is nie, verdien dit nie om te reis nie. – PIETER VAN ZYL

VER WINK DIE SUIDERKRUIS DEUR IRMA JOUBERT
LAPA Uitgewers, R135

In hierdie heruitgawe van Irma Joubert se vierde roman word die voorgeskiedenis van Tussen Stasies, haar vyfde roman, vertel wat vroeër vanjaar oor RSG voorgelees is. Dit het lesers so aangegryp dat baie biblioteke met versoeke daarvoor oorval is. Ver Wink die Suiderkruis neem ons terug na Grietjie se aanneem-ouers, Kate en Bernard, se jongmensjare. Die storie speel in die Depressiejare kort voor die Tweede Wêreldoorlog af en hul verhouding raak gekompliseer daardeur dat Kate Woodroffe die dogter van ’n welvarende mynbaas is, terwyl Bernard Neethling ’n arm mynwerker is. Hy moet haar in opdrag van haar pa oppas terwyl sy navorsing onder armblankes doen.

Die skrywer skets oortuigende karakters en die verhaal bly enduit boeiend. Die feitelike inligting oor die armoedevraagstuk van die dertigerjare is vandag opnuut relevant. – SUZETTE BOOYENS