
Have You Seen . . .? deur David Thomson; Penguin; R454
Vir party mense is daar niks lekkerders as om ná ’n lang dag met ’n goeie boek op te krul nie, terwyl ander weer regte fliekvlooie is. Hierdie boek is vir albei bedoel. Dis “ ’n persoonlike inleiding tot duisend rolprente waaronder meesterstukke, eienaardighede en skuldige plesiere met net ’n paar rampe’’, soos die subtitel dit raak opsom.
Die Britse veteraan-rolprentskrywer David Thomson het dié gewigtige boek gevul met sy uiters persoonlike menings, tirades en lofsange. ’n Bladsy word aan elk van die duisend rolprente afgestaan waaroor hy óf dol was óf met mening gehaat het óf besonder interessant gevind het. Die alfabetiese indeling van die inskrywings sorg vir interessante leesstof – stel jou rolprente van die 1900’s voor rug aan rug met lokettreffers soos Titanic! Dis ’n versamelstuk, geïllustreer en propvol inligting – die ideale Kersgeskenk vir enige fliekflooi.
Elmari Rautenbach
Dans met Armmansdogter deur Pamela Jooste; Umuzi; R150
Hierdie bekroonde debuutroman is nou tien jaar ná sy verskyning uit Engels vertaal. Die elfjarige Lily Daniels se vertelling oor die lief en leed van die bruin gemeenskap van die Valley in Kaapstad gryp die leser uit die staanspoor aan.
Al het sy ongelooflike deernis met ander, draai sy nie doekies om nie: “Onse hele huis is vol vroumense: my ouma, my antie Stella en ek. Ons familie se mans is maar taamlik nikswerd.” Wanneer die beeldskone Gloria, die ma wat haar as baba weggegooi het, skielik weer haar opwagting maak, begin die poppe dans.
Oom Gus-Seep se sêgoed sal jou laat kraai en Lily vertel ook alte lekker van antie Stella met die poliobeen en haar stryd met haar rowwejek-seun. Pamela skryf treffend skerp oor ’n kultuur waarvan sy nooit deel was nie. Linda Rode verdien ook ’n pluimpie vir haar raakvat-vertaling van hierdie besondere storie.
HAIDEE MULLER