
BYBELBLOKRAAIBOEK DEUR ANINA ROUX, LOUISE VAN TONDER EN ALBÉ GROBBELAAR; Protea Boekhuis; R95
Die skrywers het moeite gedoen om ’n indrukwekkende verskeidenheid blokraaie, woordspeletjies en vasvra-vrae saam te stel. Die Bybel vorm die grondslag van al die raaisels, maar ’n goeie algemene kennis en ook kennis van die kerkgeskiedenis, mitologie en selfs van rolprente oor die Bybel is noodsaaklik.
Die woord-soduko, woordbou en kodespeletjies sal gesoute spelers ure lank laat kopkrap. As die gogga jou laat in die lewe eers gebyt het, is die kinderblokraaie en die woordsoekspeletjies die ideale wegspringplek. Met sulke breinstimulasie kan jy jou lewensgehalte verhoog en jou lewensverwagting verleng.
As jy die hele boek wil pak, moet jy die HAT en Huisgenoot se blokraaiwoordeboek aanskaf, waarin die woorde volgens lengte gerangskik is. Al die antwoorde word volledig agter-in verstrek en dit kan help as ’n vriend jou op die spoor van ’n woord bring.
SUZETTE BOOYENS
’N SLAGTERSEUN MET ’N BRILLETJIE DEUR TOM LANOYE; Protea Boekhuis; R130
Die boek se voorblad sal dalk veganiste ’n paar draaie daarom laat loop – rou vleis aan vleishake. Maar as jy daarby kan verbykyk, word jy met ses aweregse lekkerleesverhale bederf.
Die skrywer steel jou aandag met sy ongewone manier van ’n storie vertel – van die titelverhaal oor ’n seun wat uit sy ma se baarmoeder van die verloop van sy lewe begin vertel tot Spek en Boontjies wat in die vorm van ’n draaiboek geskryf is en elke karakter se siening van ’n familietragedie uitbeeld.
Die boek het ook van die snaaksste en mooiste frases wat ek in ’n lang tyd gelees het, soos hierdie een uit Onweer in die Trope: ‘‘Ek kan die piesangs aan die bome hoor groei.’’ Dié verhaalbundel deur die Vlaamse skrywer Tom Lanoye lees nie soos ’n vertaalde boek nie, en dis juis wat dit ’n wonderlike vertaling deur Daniel Hugo maak. Heerlike ontvlugting.
EDNA ISAACS
Gesels met ons – klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.