Thursday, 25 September 2008

DR. ADRI GEE RAAD


KEELVOL VIR KLAKOUS
Ek werk en ry saam met ’n vrou wat ontsettend negatief is oor die lewe en oor alles kla. Ek kan dit nie meer hanteer nie. Ek probeer om nie met haar te praat nie, maar dit help nie. Die ergste van alles is, dit het ook nou ’n invloed op my en my man se verhouding. Ek kom elke dag in ’n woeste bui tuis en dit versuur die atmosfeer in ons huis.

My kollega begin kla sodra ek in die motor klim, en wanneer ons smiddags terugry, gaan sy aan. Ek wou al vir haar sê sy moet ophou om so ontevrede te wees, want dit is hoekom dit so sleg met haar gaan, maar dan dink ek twee keer, want ek het geen ander vervoer werk toe nie. Ek sal van my kop af raak oor die vrou se gekla.
NICCI

DR. ADRI ANTWOORD
Weet jy wat is die ergste van hierdie afgryslike situasie? Dat jou knaende, klaende kollega nie naastenby bewus is van wat sy doen nie én absoluut wonderlik voel ná elke sessie met jou. Jy is die volmaakte klankbord, want jy kan nie weghardloop nie, en sy kry die geleentheid om haar hart ten volle teenoor jou uit te stort. Daarna voel sy baie beter, want jy luister geduldig. Jy behoort haar geld te vra vir hierdie ‘‘sielkundige sessies’’!

As hierdie vrou so ’n negatiewe invloed op jou het dat dit selfs die verhouding met jou man versuur, sal jy beslis moet halt roep voor jy verder vergiftig word. Moenie verbaas wees as jy binnekort net so negatief oor die lewe voel nie.

As jy nie ander vervoer kan reël nie, moet jy die trant van die gesprekke verander. Sodra sy met ’n nare storie of klagte begin, moet jy hoflik maar vasberade sê: ‘‘Sannie, kan ons oor iets meer opbeurends gesels?’’, en dan praat jy oor iets wat mooi en lekker is. Kry jou onderwerpe vooraf gereed en hou daarmee vol. Jou kollega sal hopelik die boodskap kry.

Gesels met ons – klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.