
Dink ‘‘mikrolener’’ en die Engelse benaming loan shark duik maklik op, maar die mikro-finansieringsbedryf het aansienlik verander sedert die uitvaardiging van die Nasionale Kredietwet.
Voor die inwerkingstelling van die nuwe Kredietwet was mikroleningskliënte gewoonlik mense in laerinkomstegroepe wat nie sekuriteit vir lenings van selfs net R500 gehad het nie.
Mikroleners se grootste kliëntepoel is steeds werknemers met
’n behoefte aan kleiner lenings sonder sekuriteit, maar dié prentjie verander toenemend. Mikro-finansiering speel wêreldwyd ’n groot rol om kapitaal te voorsien vir landbouprojekte, kleinsake-ondernemings en studielenings, en dit word nou ook die geval in Suid-Afrika.
Waar kom die swak beeld van mikrofinansiers vandaan? Vroeër was daar informele leners wat tot 100 persent rente gevra het en nie skaam was om invorderings hardhandig te doen nie.
Ingevolge vorige wetgewing kon lenings van tot R6 000 toegestaan word, terugbetaalbaar oor 36 maande of minder, maar sonder ’n perk op die rente of die koste wat verhaal kon word. Gewetenlose finansiers het hieruit munt geslaan.
Teen 1999 het die bedryf gegroei tot R15 biljoen jaarliks, maar ongure praktyke was steeds gans te volop.
Ingevolge die huidige wet word alle kredietleners, hetsy banke of ander finansieringsgroepe, saam gereguleer. Gevolglik het baie klein en veral verdagte mikroleners verdwyn. Vandag is gereguleerde mikro-finansiering ’n etiese bedryf en mikroleners moet by die Nasionale Kredietreguleerder geregistreer word. Genoteerde mikro-finansiers word verder deur die Johannesburgse Aandelebeurs en die Raad op Finansiële Dienste gereguleer.
Mikroleners verskaf lenings sonder sekuriteit, ook bekend as klein krediettransaksies, wat gewoonlik nie R15 000 oorskry nie. Dit moet binne hoogstens 36 maande terugbetaal word.
Die maksimum rentekoers wat vir sulke transaksies gevra kan word, word so bereken: die repo-koers x 2,2 + 20 persent per jaar. Dit beteken dat jy vir ’n lening van R15 000 ’n maksimum rentekoers van 46,4 persent kan betaal, gegrond op die Reserwebank se huidige repokoers van 12 persent.
Die rentekoers wat kliënte betaal, hang af van hul kredietwaardigheid. Hoe groter die risiko, hoe hoër sal die rentekoers wees. Dit is gewoonlik hoër as wat ’n bank sou vra omdat dié gewoonlik sekuriteit van jou vereis.
- Lees in Huisgenoot van 2 Oktober nog oor mikroleners.
Gesels met ons – klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.