
Finansiële beplanners bied ’n verskeidenheid dienste om jou finansiële varkies op hok te kry. Maar wanneer is die regte tyd om by ’n finansiële beplanner aan te klop en watter dienste kan jy verwag?
Die ideaal is om met ’n finansiële kenner te gesels wanneer jou werkloopbaan begin, want dan moet jy vooruit dink om welvaart te bou. Baie min mense doen dit, maar Peter Dempsey, besturende direkteur van Masthead, sê enige tyd daarna is nooit te laat nie. Trouens, elke lewensfase soos trou, skei, geboortes, sterftes, nuwe werkgeleenthede en salarisverhogings het opnuut beplanning nodig.
Finansiële beplanningsdienste is lank nie meer beperk tot watter polis jy moet koop nie. Dit gaan oor alles van huis- en motorversekering tot voorsiening vir langertermyn-risikodekking en welvaartskepping deur onder meer vir jou aftrede, jou kinders se opleiding, beleggings en lewens- en ongeskiktheidsdekking te beplan. Daar is ook beplanners wat op jou behoeftes aan mediese dekking fokus, en dié wat in belasting- of boedelbeplanning spesialiseer.
Een van die eerste dinge wat ’n finansiële beplanner sal doen, is ’n omvattende ontleding van jou besondere behoeftes waar gekyk word na jou finansiële doelwitte en begeertes, hoe jou huidige situasie lyk en watter voorsiening jy reeds gemaak het deur byvoorbeeld polisse en aftreefondse.
Dan word ’n deeglike plan opgestel om enige tekorte aan te vul met die oog op faktore soos jou lewensfase, gesondheid, verdienstevermoë, afhanklikes, potensiële aftree-ouderdom en die geld wat jy het vir byvoorbeeld lewenspolisse, beleggings- en aftreefondse. ’n Goeie beplanner sal ook belasting in ag neem – vra dus vrae soos wat die netto uitkeerbedrag ná belasting is wat vir jou aftrede beplan word.
Die verskillende benamings in die bedryf kan verwarrend wees. Sommige beplanners is makelaars, ander adviseurs, en dan is daar ook verteenwoordigers. Laasgenoemde is aan ’n spesifieke finansiëledienstegroep verbonde en bied net dié maatskappy se produkte aan.
Wetgewing is deesdae baie streng wat finansiële raad betref en daarom moet ’n beplanner soos ’n makelaar by die Finansiëlediensteraad (FSB) geregistreer en gelisensieer wees. Om iemand se gelisensieerde status na te gaan, besoek die FSB by www.fsb.co.za of bel 0800-110-443.
- Lees mees oor finansiële beplanners in Huisgenoot van 18 September.
Gesels met ons – klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.