
Die veranderde belastingwet laat voorlopige belastingbetalers wonder oor ’n swaarder boete wat op hulle wag as hulle hul belasbare inkomste verkeerd skat.
Tot nou toe het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ’n “basiese bedrag” – hul vorige aangeslane belasbare inkomste – vir voorlopigebelastingbetalers gebruik om hul inkomste vir die komende jaar te kan skat.
Om veilig te wees, kon jy altyd jou basiese bedrag as skatting gebruik. As jou werklike belasbare inkomste hoër was, moes jy net teen 30 September die tekort inbetaal. Sou jy dit nie doen nie en wag vir die volgende belastingaanslag, sal geen boetes gehef word nie. Jy sal egter rente moet betaal op die balans wat vanaf 1 Oktober tot op die datum van betaling verskuldig is.
Nou lyk dinge so: Al gebruik jy jou basiese bedrag om die verpligting te bereken wat teen 28 Februarie betaal moet word, en dit blyk later jou belasbare inkomste is meer as die basiese bedrag, is daar steeds ’n boete vir onderskatting. ’n Vergunning is dat jou voorlopigebelastingberekening nie minder as 80 persent (pleks van die vorige 90 persent) van die werklike belasbare inkomste mag wees nie om ’n boete te voorkom.
As jou inkomste egter redelik konstant bly, behoort dit nie ’n groot uitwerking te hê nie. Vir voorlopigebelastingbetalers wat wel in ’n spesifieke jaar ’n groot verhoging in byvoorbeeld rente-inkomste het, kan bostaande beteken dat die basiese bedrag onderverklaar is, en hulle kan vir onderskatting beboet word.
Byvoorbeeld: David het sy tweede voorlopigebelastingopgawe vir 2009, wat teen 28 Februarie 2009 ingedien en betaal moet word, gekry. Sy vorige aanslag (vir die 2007-belastingjaar) toon ’n belasbare inkomste van R150 000: salaris (R100 000), belasbare huurinkomste (R24 000) en belasbare rente-inkomste (R26 000).
David moet nou sy belasbare inkomste vir die 2009-belastingjaar skat om sy voorlopige belasting te betaal. Voorheen sou hy nie beboet word solank hy nie ’n bedrag wat laer was as R150 000 gebruik het nie. Maar nou kan hy beboet word al het hy die basiese bedrag gebruik en dit blyk later minder as 80 persent van sy werklike belasbare inkomste vir 2009 te wees.
Wenk: Die gewysigde belastingwet sal eers van toepassing wees op voorlopige betalings vir 28 Februarie 2010.
Lees meer hieroor in Huisgenoot van 12 Februarie.