Friday, 20 February 2009

Boeke


Laat Daar Lig Wees deur Fred Mouton; Tafelberg; R130

Die skets vertel die bekende verhaal van die wolf en die drie varkies. Op die agtergrond is ’n strooihuis en ’n sinkhuis. Die wolf klop by die varkie se baksteenhuis aan, Eskom-dokumente onder die arm, en sê: “Nou’s ek seker die vark in die verhaal omdat jy nie krag het nie, nè?!”

Hierdie vlymskerp illustrasie oor kragverbruikers wat dikwels weens Eskom se onbeholpenheid sonder krag gesit het, is maar net een van Fred Mouton, spotprenttekenaar by Die Burger en Weg, se tekenprente oor politieke en ander gebeurtenisse die afgelope paar jaar in Suid-Afrika. In die boek word onder meer op kwessies soos Eskom se probleme, Robert Mugabe en korrupsie in Suid-Afrika gefokus.

Dié versameling van Fred se werk wys waarom hy so gewild onder lesers is. Die boek is ’n moet vir enigeen wat ’n goeie spotprent kan waardeer.
LOUIS KOTZÉ

Bitterboela en Soetgousblom deur Pieter Strauss; Lapa-uitgewers; R115

Dit voel asof jy saam met jou oupa en sy vriende op die stoep sit en oor Boesmanland uitkyk terwyl elkeen ’n storie vertel. Die taalgebruik is kostelik en as jy te veel kopkrap oor woorde soos “roesa” of “fuik” en sêdinge soos “ons voel vaal tallelaai”, kan jy altyd die verklarende woordelys agterin raadpleeg. ’n Verteller sê tereg: “As hieríe ou vlaktewêreld jou eers aan’ie hart gekom het, da’ seukel ’n mens om weer uit sy greep uit los te kom . . .” Selfs die spoke van ou inwoners kom weer terug.

Soos die titel aandui, is dit stories oor goedgaan en swaarkry, lag en trane. Van Pofadder se “stukkende cowboy” tot Koos Num, “die heel laaste Boesman van Kenhardt” wat nooit vir dapperheid vereer is nie, sleur die bekkige karakters jou mee. Hierdie bundel bewys weer gewone mense is baie interessanter as al daardie glansmense van Hollywood.
PIETER VAN ZYL