Thursday, 26 February 2009

Geldsake: So raak 2010 ons ekonomie


‘‘Wat’’ vra ’n leser, ‘‘gaan die Wêreldbeker-sokkertoernooi nou eintlik vir die Suid-Afrikaanse ekonomie beteken en hoe kan gewone mense voordeel trek?’’

Dié vraag is so omvattend dat ek by prof. Chris Harmse en Adam Jacobs, onderskeidelik hoofekonoom en onafhanklike ekonoom by Dynamic Wealth, gaan aanklop het. Hulle is dit eens: Die toernooi versag beslis die impak van die wêreldwye ekonomiese krisis op Suid-Afrikaners.

Die ekonomie word reeds bevoordeel deur die bou van stadions, die uitbreiding en opknapping van vervoerstelsels, asook die verbetering van telekommunikasiegeriewe. Dit is deel van die regering se infrastruktuurprogram en biljoene rande word in die volgende paar jaar daaraan bestee. Dié besteding geskied veral deur projekte van Eskom, Transnet en Telkom, asook munisipaliteite en provinsies.

Tans skep sulke projekte werk, en werkers verdien ’n inkomste wat hulle weer bestee. Die ondernemings wat hul geld kry, kry ’n inkomste wat hulle in staat stel om meer mense aan te stel. Daarby is kontrakte toegeken aan maatskappye wat andersins, gegewe die ekonomiese omstandighede wêreldwyd, minder werk sou gehad het.

Buiten maatskappye wat by infrastruktuur betrokke is, sal ander wat dienste aan toeriste verskaf, deur die toernooi bevoordeel word. Dit sluit verblyf en vervoer in van alle betrokkenes by TV-uitsendings, en ander dienste aan die oorsese media wat verslag kom doen oor die toernooi.

Regstreeks sal gewone mense nie maklik ’n paar rand verdien nie. Daar is nie sprake van uithuur van huise vir gaste of nuwe ondernemings om Wêreldbeker-aandenkings te verkoop nie, aangesien die internasionale sokkerliggaam Fifa dit beheer en ondernemings en huishoudings verbied om regstreeks hierby betrokke te raak.

Buitelandse toeriste sal wel hul aankopies vir ’n maand of wat hier doen en van plaaslike dienste gebruik maak. Dit sal verskeie maatskappye bevoordeel, en na verwagting ook hul aandeelpryse. Vir die gewone mens is daar dus die kans om sulke aandele te koop.

Die Wêreldbeker sal beslis help dat Suid-Afrika vinniger as ander lande herstel van die wêreldwye ekonomiese krisis. Die groot voordeel is die blootstelling wat die land gaan kry om die toerisme-bedryf ’n hupstoot te gee – maar die kenners sê dan moet die misdaadsituasie ook verbeter.

Lees in Huisgenoot van 5 Maart meer oor watter uitwerking 2010 op ons ekonomie sal hê.